Valtrac se verhouding met Valtra strek reeds byna drie dekades terug in Suid-Afrika. Die maatskappy is in 1996 deur Wynn Dedwith gestig nadat hy self die waarde van Valtra en Valmet-trekkers op sy plaas ervaar het.

Wat as ՚n passie vir betroubare, robuuste trekkers begin het, het gegroei tot ՚n gevestigde nasionale verspreider van Valtra-trekkers in Suid-Afrika, met takke regoor die land en ՚n sterk fokus op diens, opleiding en ondersteuning aan boere. Valtra self dra ՚n ryke Noord-Europese erfenis. Die handelsmerk se wortels lê in Finland en Swede, met die eerste Valmet-trekkers wat reeds in 1951 vervaardig is. Vandag kombineer Valtra die ingenieursvernuf van Finland se Valmet en Swede se Volvo BM, en die handelsmerk staan wêreldwyd bekend vir sy duursaamheid, brandstofdoeltreffendheid en vermoë om in die moeilikste toestande te presteer. Sedert Valtra deel geword het van die wêreldwye AGCO-groep, het die handelsmerk sy posisie verder versterk as ՚n vervaardiger van uitstekende trekkers vir moderne boerdery.

By vanjaar se NAMPO-oesdag 2026 het Valtrac weereens bewys waarom Valtra ՚n trekker vir elke boer bied, van
kompakte, veelsydige werkesels tot hoëperdekrag-trekkers vir grootskaalse graanproduksie. Die indrukwekkende reeks op die uitstalling het gewys hoe Valtrac se Valtra-trekkers ՚n van “A tot Z-benadering” volg om boere in
verskillende bedrywe te bedien, ongeag die grootte of aard van hul boerdery.

Van A tot Z: Valtrac wys waarom Valtra

‘n trekker vir elke boer bied by NAMPO By NAMPO vanjaar het Valtrac weereens sy merk gemaak met ՚n indrukwekkende uitstalling van die volledige Valtratrekkerreeks, van die kompakte A93-wingerdtrekker tot die kragtige S416-vlagskiptrekker. Die boodskap op die standplaas was duidelik: ongeag die grootte van jou boerdery of die aard van jou bedryf, Valtra bied ՚n trekker vir elke boer. As deel van die indrukwekkende trekkers wat NAMPO uitgestal het, het besoekers ook die geleentheid gehad om ՚n besonderse stuk Valtra-erfenis van nader te sien, ՚n 15 perdekrag (11 kW)-Valmet van 1953, een van die eerste modelle wat ooit vervaardig is. Langs dié veteraan het Valtrac ook die eerste Valtra 6400 ten toon gestel wat hulle Suid-Afrika toe ingevoer het en wat steeds vandag op die Dedwith-plaas werk.

Die groot aandagtrekker op die standplaas was sonder twyfel die indrukwekkende S-reeks, met die S416 aan die voorpunt. Hierdie groot meneer van die Valtra-stal bied tot 416 perdekrag (310 kW) en is ontwerp vir boere wat maksimum werkverrigting en kapasiteit benodig. Die nuwe sesde generasie S-reeks bring verskeie verbeterings mee, insluitend ՚n nuwe kajuitontwerp, groter ratkaste en die opsie van ՚n hidrouliese stelsel wat tot 400 liter olie per minuut kan lewer. Vir moderne implemente en groot planters waar hoë olievloei noodsaaklik is, bied dié reeks die kapasiteit wat groot boerderye vereis.

Tussen die bekende T-reeks en die groot S-reeks staan die splinternuwe Q-reeks, ՚n toevoeging wat baie aandag by NAMPO getrek het. Die Q-reeks vul die gaping tussen die twee bestaande reekse perfek aan en bied krag van 260 tot 305 perdekrag (194 kW tot 227 kW). Volgens Valtrac is dié reeks spesifiek ontwikkel vir boere wat ՚n groter plantertrekker benodig, maar steeds die voordeel van ՚n meer kompakte raam wil hê.

Die Q-reeks lewer 200 liter olie per minuut teen 1 650 revolusies, wat teen vol revolusies tot sowat 260 liter per minuut kan verhoog. Dit maak die trekker besonder doeltreffend vir toepassings waar hoë hidrouliese vloei belangrik is. Die kombinasie van sterk werkverrigting, brandstofdoel-treffendheid en veelsydigheid maak die Q-reeks ՚n uitstekende opsie vir moderne graanboere.

Die bekende T-reeks bly egter steeds een van die gewildste keuses in die Valtra-stal. Met modelle wat tot 235 perdekrag (175 kW) strek, bied die reeks ՚n balans tussen krag, tegnologie en veelsydigheid. Die T-reeks is ontwerp om ՚n ware alles-in-een trekker te wees, geskik vir plant, grondbewerking, vervoer en algemene plaaswerk.

Vir boere wat eenvoud en robuustheid verkies, bied Valtrac ook die BH-reeks aan. Hierdie trekkers, wat in Brasilië vervaardig word, deel soortgelyke groottes met die T-reeks, maar fokus meer op eenvoudige, harde werk. Die BH-reeks gebruik ՚n driespoed- powershift-ratkas in plaas van die vyfspoedratkas van die T-reeks, wat dit ՚n meer eenvoudige maar steeds uiters betroubare werkesel maak vir boere wat nie noodwendig al die gevorderde tegnologie benodig nie.

Nog ՚n gewilde segment op die standplaas was die N-reeks, Valtra se grootste viersilindertrekkers. Die reeks wissel van 135 tot 175 perdekrag (100 kW tot 130 kW) en word dikwels beskryf as die kleiner weergawe van die T-reeks. Hoewel dit ՚n viersilindertrekker is, deel die N-reeks steeds dieselfde kajuit, ratkas en baie van dieselfde gevorderde funksies as die groter T-reeks.

Boere kan binne die T- en N-reeks ook kies tussen die Active- en Versu-modelle. Die Active-modelle beskik oor meganiese hidrouliese beheer, terwyl die Versu-modelle standaard toegerus is met guidance-tegnologie, elektriese hidrouliese beheer en verdere slimboerderyfunksies. Buiten dié verskille bly die ratkaste en hidrouliese pompe tussen die modelle grootliks dieselfde, wat beteken boere kan die spesifikasie kies wat die beste by hul behoeftes en begroting pas.

Aan die kleiner kant van die spektrum het die A-reeks gewys dat kompakte trekkers steeds groot werk kan verrig. Die A93-wingerdtrekker is spesifiek ontwerp vir nouer ruimtes soos wingerde en boorde, waar manoeuvreerbaarheid van kardinale belang is. Die smaller ontwerp maak dit ideaal vir spesialiteitsgewasse sonder om op werkverrigting in te boet.

Valtrac het ook die nuwe A115 bekend gestel, ՚n model wat effens kleiner as die N-reeks is, maar steeds dieselfde moderne gevoel en gemak bied. Die trekker beskik oor ՚n powershift-ratkas en ՚n hidrouliese vloei van 98 liter per minuut, wat dit ՚n uiters veelsydige opsie maak vir gemengde boerderye en algemene plaaswerk.

Wat duidelik by NAMPO 2026 na vore gekom het, is dat Valtra se trekkerreeks nie bloot oor perdekrag gaan nie, maar oor die vermoë om ՚n oplossing vir elke tipe boer te bied. Van spesialiteitsboere en wingerdboere tot grootskaalse graan- en kleiner, kommersiële boere, elke trekker in die Valtra-stal is ontwerp met praktiese werkverrigting, bestuurdergerief en duursaamheid
in gedagte.

Vanwee 30 jaar se betrokkenheid in Suid-Afrika, verstaan Valtrac plaaslike boere se behoeftes. Die kombinasie van wêreldklastegnologie , eenvoudige betroubaarheid en plaaslike ondersteuning verseker dat Valtrac-
en Valtra-trekkers steeds ՚n sterk en bekende rolspeler in die Suid-Afrikaanse landboubedryf bly. By NAMPO 2026 het Valtrac nie net trekkers uitgestal nie, hulle het gewys hoe ՚n volledige reeks oplossings vir moderne boerdery lyk, van A tot Z.