Strooi mooi vir ‘n oorvloedige oes: Bogballe se doeltreffendheid is g’n bogstorie

Die regte kos op die regte tyd op die regte plek maak kinders gesonde, sterk, nuttige burgers. Dieselfde geld vir plante op jou lande. Bogballe is die kunsmisstrooier wat sorg dat geen korrel vermors word nie, maar dat elke plant alles kry wat hy nodig het om vir jou ՚n goeie oes te verseker. Wynn Dedwith, uitvoerende hoof van Valtrac, vertel.

“My eerste kennismaking met Bogballe was omtrent in 1967. ՚n Ou buurman van ons het ՚n strooier gekoop en dit is waar ek dit die eerste keer gesien het.” Vir ՚n ruk was die handelsnaam nie in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar Valtrac het toe besluit om dit te verander. ՚n Boer kan maklik ՚n Bogballe-kunsmisstrooier in die hande kry danksy Valtrac se landwye netwerk en puik diens wat verseker jy kry die regte toerusting en onwrikbare diens vir jou boerdery.

“Ons het die strooiers begin invoer omdat Bogballe-strooiers anders is as enige ander strooier in die mark,” vertel Wynn.

“Dit gaan oor die manier waarop die strooier se skywe draai.” Die meeste strooiers wat beskikbaar is se skywe draai weg van mekaar af, dit wil sê die linkerkantse skyf draai antikloksgewys en die regterskyf kloksgewys, maar dit is omgekeer op die Bogballe-kunsmisstrooier. Die linkerskyf draai kloksgewys en die regterkantste een antikloksgewys.

“Die effek wat dit gee is ՚n unieke strooipatroon aan die buitekant,” sê Wynn.

Bogballe se strooiers is beskikbaar in verskillende groottes om elke boer se behoefte te vervul.

Wynn maak ՚n vergelyking met iemand wat hawer met die hand saai om die patroon te verduidelik. “As jy jou regterhand gebruik, dan saai jy van links na regs, maar met jou linkerhand saai jy van regs na links. As jy op hier die manier saai dan bedek jy die grond amper 180 grade voor jou. Dit is presies hoe die Bogballe-strooiers werk.

“Elke skyf strooi omtrent 170 grade agter die strooier en as jy een maal oor jou land beweeg het, beteken dit dat jy reeds dubbel gestrooi het omdat die patroon ook bo-oor mekaar strooi. “As jy dan terugkom en jy ry op die kant van jou vorige baan, dan strooi jy weer. Die resultaat is vier lae kunsmis wat opmekaar lê.”

Die voordeel hiervan is natuurlik dat, indien die trekkeroperateur effens skeef ry of ՚n gedeelte van die land om watter rede ook al mis met die tweede rondte, daar steeds minstens drie lae kunsmis regoor die land sal wees.

“Jou strooiwerk is soveel akkurater, want as jy een keer mis, dan is jy seker daar is wel oral kunsmis.”

Bogballe het aan alles gedink

Bogballe bied net voordele. Vir die enigste ding wat ՚n nadeel kon wees, het Bogballe ook ՚n antwoord: Wynn verduidelik dat die nadeel is dat die omsoom op die lande nie so netjies is soos ՚n gewone kunsmisstrooier nie. “Maar daarvoor het Bogballe ook voorsiening gemaak,” wys hy uit.

“Om nie op dieselfde 180 grade op dié dele te strooi nie, trek jy net eenvoudig ՚n hefboom wat dan die skywe se rigtings omkeer sodat jy die land kan omlyn.” Kleiner modelle van die strooier het hierdie hefboom, maar op die groter modelle is dit ՚n knoppie wat jy in die kajuit druk om woerts-warts die omskakeling te maak.

“Jy kan die skoene op die skywe verander om dit te optimaliseer vir sowel jou lande se kante as jou strooiery op die lande.” Dit werk so: die skoene het twee kante. Wanneer die skywe in die oorspronklike rigting draai, is die skoene so ontwerp om die beste resultaat vir strooiwydte te gee. Wanneer die skywe vir die omlyning omkeer, dan is dit die ander kant van die skoene se beurt. Daarom is dit so ontwerp om dan die beste omlyning te bied. “Dit is werklik ՚n unieke strooier en sover my kennis strek is daar geen ander strooier in die wêreld wat so werk nie,” verklaar Wynn.

Die skywe van die Bogballe-kunsmisstrooier draai in die ander rigting as ander strooiers op die mark vir deegliker strooiwerk.

Nog redes om Bogballekunsmisstrooiers te kies

Met kunsmispryse wat so hoog is, moet die boer ՚n kunsmisstrooier hê wat akkuraat strooi om waarde uit elke korrel kunsmis te put.

Wynn vertel: “Wanneer jy in ՚n vliegtuig vlieg en jy kyk af, dan sien jy baie maal hoe kunsmis in rye toegedien was. Elke jaar word die kolle net erger en jy sien hoe daar ՚n duidelike verskil is van waar kunsmis geval het en waar nie. Met ՚n Bogballe-strooier lyk lande nie so nie.

“By Valtrac kan ons sien dat Bogballe-kunsmisstrooiers werklik werk, selfs net in die gewildheid daarvan onder ons bestaande klante. “Ons doen kontrakteurwerk waar ons vir boere gaan strooi, maar dikwels skaf die boer dan later self ՚n Bogballekunsmisstrooier aan omdat dit so doeltteffend is.”

Bogballe gebruik ՚n spesiale verf wat bydra tot die langlewendheid van elke eenheid. Die verf is geformuleer sodat dit nie maklik verweer nie en daar ook geen interaksie tussen die verf en die bestanddele in die kunsmis plaasvind nie. Elke strooier is fyn afgerond deur sorgvuldig alle skerp hoekies rond te maak – dit verseker dat die verf deeglik klou en nie dunner is as op ander dele van die werktuig nie. Dit is natuurlik belangrik dat jou strooier opgepas word as jy die meeste jare daaruit wil kry. Kunsmis kan steeds aanpaksels op die strooier vorm en die werking beïnvloed, maar die oplossing is eenvoudig: jy kan die kunsmisstrooier deeglik was sodra dit klaar gebruik is en weer skuur toe moet gaan.

Bogballe-kunsmisstrooiers is in verskillende bakwydtes beskikbaar, vanaf ՚n nouer een wat in ՚n boord kan werk en 600 liter kunsmis hou, tot een wat 6 000 liter hou. Hulle almal is modulêr sodat jy hulle kan vergroot deur meer eenhede bo-op te monteer. Verder het Valtrac ook Bogballe-strooiers wat wissel vanaf die basiese modelle tot meer gevorderde strooiers wat ISOBUS-gereed is met seksiebeheer en kontroles in die kajuit.

“Dit is doodmaklik om die Bogballe te kalibreer,” beaam Wynn. “Jy laai net ՚n selfoontoepassing af waar jy hoeveel kunsmis van watter soort jy wil invoer, en die toepassing gee jou die instellings wat gemaak moet word na aanleiding van die kunsmis se hardheid, grootte ensovoorts. In die groter modelle wat ISOBUS-toegerus is, kalibreer die masjien homself.”

Die kleiner modelle het ՚n verskeidenheid bykomstighede soos ՚n skaal en siwwe wat jou kan help om die grootte van jou kunsmis – veral as dit ՚n minder bekende handelsnaam is – te vind. “Dit maak dit net makliker vir die boere; hulle hou daarvan. Dit is nie ՚n geval van ry op die land om die masjien te kalibreer nie,” sluit Wynn af.

Strooi doeltreffend en presies met ՚n Bogballe-kunsmisstrooier. Kontak Attie de Villiers by 083-261-9863 of 056-817-7308, of stuur ՚n e-pos na attiedev@ valtrac.co.za. Besoek ook die webwerf www.valtrac.co.za.

Artikel gedoen deur:  van ProAgri Media