Liefde Vir Landbou En Valtrac Se Tatu-Skeurploeë

Die wenresep vir boerdery: Liefde vir landbou en Valtrac se Tatu-skeurploeë

Boerdery is meer as ՚n beroep – dit is ՚n liefde. Om al jou inspanning, tyd en aandag aan ՚n boerdery te bestee doen jy nie sonder om ՚n innige liefde vir landbou te hê nie. En een van die lekkerste ervarings is om die vrug van jou handewerk te sien.

“Boerdery is ՚n passie,” vertel Dirk Potgieter. “Dit is ՚n liefde wat jy het vir die land. Dit is ՚n passie wat jy het om die grond te bewerk, jou gewasse te plant, jou opbrengs te sien en natuurlik ook jou handewerk deur die jaar te sien.”

Dirk boer tussen Vereeniging en Villiers op die plaas waar sy oupagrootjie vier geslagte gelede, in 1935, begin boer het. Vandag bestaan die boerdery bekend as DR Potgieter en Seun. Daar plant hulle jaarliks mielies en sojabone op droëland.

“Die grootste uitdagings wat ons in hierdie omgewing ervaar is droogtes. Die mielies en sojabone se wortels moet dieper afsak om die vog te gaan haal,” verduidelik hy. “Daar was ook ՚n verdigtingslaag, beter bekend as ՚n ploegblad, wat ontstaan het van al die jare se geploeg.” Hierdie verdigtingslaag verhoed gewasse se wortels om die grond binne te dring en vog wat onder die kors vasgevang is te benut.

Dirk Potgieter, boer, saam met Jaap Strauss, verkoopsverteenwoordiger van Valtrac, by die een van die vier 7-tand AST/MATIC 450-skeurploeë van DR Potgieter en Seun-boerdery.

Valtrac se Tatu AST/MATIC 450 is die antwoord op grondverdigting

Nadat Dirk se pa in 2007 bewus geword het van die probleem, het die soektog begin na ՚n werktuig wat die harde ploeglaag kon breek en ՚n egalige saadbed agterlaat.

“Hierdie AST/MATIC 450 was die eerste werktuig wat ons teëgekom het wat ՚n fyn en gelyke saadbed vorm,” brei Dirk uit. “Ons eindelike besluit het berus op die skeurploeg se penetrasievermoë, die werking van sy tande, asook die sterkte van die raam. Dit is een van die sterkste skeurploeë tans in die mark – jy sal nie sommer kry dat hierdie rame kraak of breek nie.”

Toe Dirk later die boerdery by sy pa oorgeneem het, het hy voortgegaan om die AST/MATIC 450’s te gebruik. “Ons het nog net wonderlike diens uit hulle gekry,” voeg hy by. Die boerdery gebruik tans agt van hierdie skeurploeë: Vier 7-tandeenhede, drie 13-tandeenhede en een 21-tandskeurploeg.

Die 13-tandskeurploeg vereis ’n trekker van so 150 kW, die 7-tand so 110 tot 120 kW en die groot 21-tand 430 tot 440 kW.

Een van die Potgieters se 13-tand Tatu AST/MATIC 450-skeurploeë wat reeds twaalf jaar lank getroue diens lewer op die plaas.

Die werkdiepte van hierdie skeurploeë is ongeveer op 450 cm, maar hulle kan dieper werk. “Ons druk hulle tot so 470, 480 cm,” bieg Dirk.

“Hulle werking is fantasties! Die tandvorm maak dat dit nie kluite vorm nie. Dit is nie soos die konvensionele gebuigde tand nie; dit loop teen hoeke. Ons kan ook natuurlik baie later in die seisoen werk teenoor boere wat baie kluite breek.

“Ons is maar lief om los te maak. Of dit nou sand of harde grond is, om tot 480 cm diepte los te maak help vir wortelindringing. Ons probeer deurlopend diep bewerk.”

Dirk gebruik die skeurploeë op die landerye nadat die beeste dit bewei het en van die reste gevreet het. “Ons stuur ՚n skotteleg deur die landerye om enige materiaal eers fyn te sny. Dan gebruik ons die skeurploeë, sodra die grondvog dit toelaat, om enige blaaie wat deur die seisoen gevorm het of verdigting wat gedurende strooptyd plaasgevind het te breek.”

Vele kenmerke onderskei Tatu se AST/MATIC 450

Die AST/MATIC 450 se tande is nie gebuig soos mededingers s՚n nie. Nee, dit het hoeke wat kluite verder opbreek.

Wat vir Dirk uitstaan van die AST/ MATIC 450 is die tandvorm, sterk raam en die beskikbaarheid van onderdele. “Al breek die werktuie nie sommer nie, gee dit gemoedsrus om te weet dat onderdele vrylik beskikbaar en maklik bekombaar is,” sê hy.

Die Tatu-skeurploeë vereis minimale onderhoud. “Algemene jaarlikse onderhoud moet natuurlik gedoen word, soos verslete skare ruil en tande wat skeef gebuig of uitgewerk het dalk vervang, maar die raam hou. As jy jou goed oppas, sal dit jou oppas,” sê Dirk.

՚n Kenmerk wat ՚n groot pluspunt op die Tatu-skeurploeë is, is dat elke laer in ՚n oliebad loop en dus ՚n lang, lang lewe het. “Dit maak sake soveel makliker vir ons want ons hoef nie kortkort laers te vervang nie,” vertel Dirk. “Hierdie 13-tand AST/MATIC 450 is nou al twaalf jaar oud en ons het nog nooit ՚n laer op hom vervang nie.”

Hierdie kenmerk is eie aan Tatu se produkte. “Dit is ՚n swaardiens laer wat in olie loop,” verduidelik Jaap Strauss, Valtrac verkoopsverteenwoordiger vir die Oos-Vrystaat. Die laers is aan beide kante verseël sodat daar nie stof binnein beland nie. “Op hierdie laers het die boer ՚n driejaarwaarborg, maar soos Dirk genoem het, van sy skeurploeë werk al oor die twaalf jaar en hulle het nog nie nodig gehad om dit te vervang nie. As jy dit in stand hou en dit lek nie olie nie, dan kan hulle baie lank hou.”

Die voordeel vir die boer is dat dit nie soos ander laers gereeld geghries of vervang moet word nie.

Onderdele is vrylik beskikbaar en ondersteun deur vriendelike Valtrac-diens

Te danke aan Valtrac wat die Tatuwerktuie invoer en versprei, is onderdele altyd beskikbaar. “Buiten die duursaamheid van die skeurploeg ontvang ek ook vriendelike diens by Valtrac,” vertel Dirk. “Hulle wil jou help. Dis nie net ՚n maatskappy nie, dit is mense-mense wat werklik belangstel in jou boerdery. Jy wil met hulle sake doen,” beklemtoon hy.

“Die diensondersteuning van Valtrac is fantasties. Hulle is altyd vriendelik en bereid om te help. As hulle nie iets dadelik beskikbaar het nie, maak hulle ՚n plan vir jou. Dit voel dat jy as die boer belangrik vir hulle is. Hulle verstaan ook dat hierdie skeurploeë werk in ՚n kritieke tyd voor planttyd as die vog dit toelaat, so hulle maak planne om jou in daardie tyd te akkommodeer.”

Knie-diep in die kluite: waar dié hoekige tande van die AST/MATIC deurgaan bly geen kluite agter nie.

Dirk se naaste handelaar is Parys, maar Jaap is sy verkoopsverteenwoordiger in hierdie gebied. “Hierdie produkte word ingevoer vanaf Brasilië. Die Tatu-skeurploeë se hele konsep is anders as die ander skeurploeë wat vandag beskikbaar is. Dit is duursaam en gemaak van sterk materiaal om langlewendheid te verseker,” getuig Jaap.

“Ons vertrou hoe hierdie werktuie werk. Die unieke tandvorm, snyers voor elke tand en dan die swaar roller agter gee vir ons baie goeie bewerking. Ons trek nie net strepe nie,” lig hy uit. “Dit is hoekom Valtrac besluit het om dit in te voer en te versprei.”

Valtrac se diens en ondersteuning is baie belangrik vir die maatskappy, sê Jaap: “Ons is trots daarop om die beste diens te lewer en die beste toerusting te versprei.”

Om dit moontlik te maak, verseker Valtrac dat hulle aan die voorpunt van landboutegnologie bly deur die groot, jaarlikse landbouskoue regoor die wêreld by te woon. “Ons topbestuur gaan kyk na al die nuutste toerusting en probeer dit na Suid-Afrikaanse boere bring,” vertel Jaap.

Dirk glimlag: “Ek beveel definitief Valtrac as maatskappy by boere aan. Hulle liefde vir boerdery loop net so sterk soos myne, hulle verskaf die beste werktuie en trekkers teen redelike pryse en onderdele is altyd beskikbaar. Hulle personeel vul nie net posisies nie, dit is mense wat kundig is en jou werklik kan en wil help.”

Artikel gedoen deur: https://proagri.co.za/die-wenresep-vir-boerdery-liefde-vir-landbou-en-valtrac-se-tatu-skeurploee/