Articles

Kom kyk by NAMPO: Valtrac maak die boer nog sterker

’n Goeie voorraad voer vir sy vee is vir die boer goud werd. Dit het die afgelope en voortslepende droogte weer deeglik bewys. Valtrac bied die boer al die werktuie wat hy nodig het om die beste voer vir sy diere op te dis – van trekkers, planters, mis-, kunsmis- en floddertoedieners, spuite, kuilvoerkerwers, -waens en -uithalers, snyers, harke, belugters en balers.

Die goeie nuus van die jaar is juis nuus oor balers: Valtrac is pas aangestel as die alleeninvoerder en –verspreider van die gesogte reeks KUHN-balers in Suid-Afrika. KUHN-balers geniet reeds internasionale aansien en Suid-Afrika se boere kan nou ook die mildelike voordele van hierdie reeks voortreflike balers geniet – natuurlik rotsvas gerugsteun deur Valtrac se legendariese naverkoopdiens.

Baalwerk is KUHN se kos en met onverbiddelike reëlmaat lewer elke KUHN-baler die een perfekte, kompakte, netjiese baal na die ander – sonder die geringste nodigheid van swets of sukkel vir die boer. KUHN-balers se vernuwende unieke kenmerke maak hulle die doeltreffendste, betroubaarste, veelsydigste en mees ekonomiese oplossing vir die boer.

LSB 1270 DX-grootblokbaler

Duursaamheid, hoë werksuitset, betroubaarheid en die vermoë om in enige werkomstandighede perfekte, stewige bale van haas enige materiaal te maak, is die kenmerke wat Valtrac se KUHN 1270 DX-grootblokbaler onderskei. Hooi, kuilvoer, strooi, lusern, mielie- en suikerrietreste is alles die KUHN 1270 se kos.

LSB staan vir groot blokbale (Large Square Bales) en die X in hierdie grootman se naam staan daarvoor dat hy EKStra digte bale maak. Dit beteken stewiger bale wat makliker stapel, hantering beter weerstaan en waarmee ’n mens die loonvrag van ’n vragmotor of sleepwa ten volle kan benut. Die LSB 1270 DX hanteer groot massas materiaal met gemak. Daarvoor sorg sy integrale rotor. Maar as jy hom nóg gulsiger wil maak om ’n magdom droë of dik materiaal 15% vinniger te hanteer, kan jy die opsionele meganies aangedrewe gewasroller (crop roller), wat met ’n nokkoppelaar beskerm word, aanbring.

Vir die operateur is dit pure plesier om met die LSB 1270 DX te werk. Die beheerterminaal wys hom deurentyd alles wat hy nodig het om te weet, soos baaldigtheid en kapasiteit en die werking van die selfverstellende dubbelknoopstelsel.

Rondebalers:

KUHN FB 3130, FB 3135 en FBP 3135 BalePack

Valtrac se KUHN-vastekamerrondebalers is ontwerp om ekstra digte bale te maak in die mees uitdagende omstandighede. Die FB 3130 is ’n geen-nonsens baler wat met die standaard AT10- stelsel beheer word. Hy is ontwerp vir swaardienstoepassings soos vir baalkontrakteurs en die baal van plantreste op lande.

Die FB 3135 en FBP 3135 BalePack is die gevorderde modelle met ISOBUS-stuur en veelvuldige funksies wat vanuit die kajuit beheer word om perfekte bale te maak in die moeilikste toestande wat die wêreld kan bied. Hulle baaleenhede is dieselfde, maar die FBP 3135 BalePack is ’n kombinasie wat ook ’n gedugte baaltoedraaier insluit.

Unieke kenmerke van hierdie reeks is die volgende:

  • ’n Nokbaanopteleenheid (cam track pick-up) van 230 cm met ’n slingermontering wat die grondhellings volg vir optimale herwinning van die materiaal. Die vyf rye tande en kort gewasroller sorg vir vloeiende en skoon bymekaarhark en optel, selfs teen ’n hoë spoed.
  • Die balers spog met die gepatenteerde Integral Rotor Technology met dubbele rotorvingers wat van Hardox-slytplate gemaak is. Die eenvoudige, onderhoudvrye, kortafstandvoerstelsel waarborg ’n tamaai werkskapasiteit in alle toestande. Verstoppings is raar, maar word maklik reggestel met die ontkoppeling van die rotor en die valvloer.
  • 18 rollers van 3,2 mm dik trekvaste staal maak elke baal ’n kompakte en stewige meesterstuk.
  • Die verdeelde aandrywing tussen die baalkamer aan die een kant en die opteller en rotor aan die ander kant sorg vir gladde werkverrigting en eenvormige kragoordrag.
  • Die nuwe netbinder met sy rektegnologie verseker ferm, stewige, eenvormige bale. Die netrek kan maklik verstel word om die bale stywer toe te draai.
  • Die FBP 3135 PalePack is ontwerp om selfs teen steil hellings perfek te werk. Sy unieke IntelliWrap™ verseker goedgevormde, diggeseëlde bale.

Ingeboude rotor

’n Unieke KUHN-kenmerk waaroor boere baie bly kan wees, is die ingeboude rotor waarmee alle KUHN-balers in Suid-Afrika toegerus is. Dit is ’n rotor met ’n groot deursnit en swaardiensvleuels wat ’n eenheid met die rotor vorm. Hierdie onderhoudvry en kortafstandinvoerstelsel dwing selfs die swaarste materiaal deur die inlaatopening vir hoër spoed en hoër produktiwiteit. Wanneer die materiaal nie gekerf moet word nie, voer die ingeboude rotor dit regstreeks in die baalkamer in. Saam met Valtrac se Pöttinger-snyers, -harke en -belugters wat wêreldwyd gewild is vanweë hulle gehalte en doeltreffendheid, hoef die boer nie verder te soek na hooi- en kuilvoertoerusting nie.

Artikel saam gestel deur: