Articles

Valtrac se Parruda Stronger bereik groot hoogtes

Verlede jaar was j-jaar vir die bekende Franse Kuhn-groep wat wêreldgehalte landbouwerktuie vervaardig en reeds ’n stewige voetspoor in Suid-Afrika het. Hulle het Montana Indústria de Máquinas, wat uitstekende spuittoerusting op Brasiliaanse bodem vervaardig, oorgekoop. Met hierdie transaksie het Kuhn hulle reeds wêreldklasgehalte spuitreeks verder uitgebrei.

Die nuwegenerasie Montana-spuit se naam is nie verniet ‘Stronger’ nie. Hy is ’n trotse Kuhn-vernuwing en het die Parruda weer tot die voorpunt van spuittegnologie gebring.

Op plaaslike bodem is dit Valtrac wat verseker dat elkeen van ons boere sy hande op so ’n Kuhn-produk kan lê. Een so ’n boer is Henk Conradie van Ogies wat ses jaar gelede sy eerste Parruda-spuit gekoop het. Sedertdien kon hy sonder enige moeite of sukkel sy sojabone en mielies op die regte tye op sy geen- en strookbewerkinglande bespuit om onkruid en peste doeltreffend te bestry.

“Ons gebruik Roundup regdeur op die onkruid van voordat ons begin plant en spuit gedurende die seisoen Roundup op die soja en op die mielies kort na opkoms,’ sê Henk.

“In vergelyking met my vorige spuite het die Parruda ’n uitstekende kalibrasiemeganisme om baie spesifieke hoeveelhede gif neer te sit sonder om homself gedurig uit te stel. Daarmee saam is sy gerigte toediening ook baie akkuraat,” sê hy.

Soos enige goeie boer wat met die uitdagings van landbou moet tred hou, is dit weer tyd vir Henk om die jongste tegnologie te omarm. Sonder om veel na te dink, het hy op die Perruda Stronger besluit.

“Die ou spuit het my geen rede gegee om nie weer een van dieselfde soort te koop nie. Ek ken die spuit ook nou so goed en is nou so gemaklik en vertroud daarmee dat ek nie anders kan as om die volgende weergawe te koop nie,” sê hy.

“Ek het die nuwe Parruda by die Valtrac-stalletjie op Nampo gesien. Die manne van Montana uit Brasilië was ook daar en het vir my al die verbeterings wat aan die bestaande spuit aangebring is gewys,” sê hy.

Henk het baie fyn opgelet terwyl die Brasiliane hom die fyner dingetjies wat verbeter het uitgewys het. “Die Stronger het nou ’n allemintige 1,8 m grondvryhoogte. Daar is nou geen 90-grade buigstukke in sy hidrouliese stelsel nie – die skerpste buigings is 45 grade, wat beteken dat die olie makliker, vinniger en beter vloei en nie warm word nie. Die nuwe spuit se balk agter is ook versterk en die Stronger word as standaard met die geïntegreerde GPS- en Autosteer-tegnologie uitgerus. Die onkruiddoderhouer kan ook laat sak word om die ingooi te vergemaklik en vermorsing uit te skakel,” sê Henk.

Die gifpomp is nou heeltemal uit vrekvry staal vervaardig. Verder kan nege afsonderlike seksies aan- of afgeskakel word terwyl die spuit enige vloeistof teen so liggies as 10 liter/minuut tot ‘n deeglike 310 liter/minuut kan plaas presies waar dit nodig is.  

Die spuit gebruik ook baie minder brandstof omdat dit met drukbuisinspuiting (common rail) toegerus is.

“Ek is baie tevrede met die uitstekende diens wat ek tot dusver van Valtrac gekry het en ek sien daarna uit om hierdie seisoen met hulle hulp my onkruid heeltemal baas te raak,” sê Henk.

Vir meer inligting, skakel vir Attie de Villiers by 083-261-9863 of 056-817-8006 of stuur vir hom ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. .