Articles

Minimumbewerking: AST/Matic skep ‘n perfekte saadbed

’n Uitblinker-werktuig in Valtrac se stal het minimumbewerkingboere sowel as konvensionele boere regoor die land gaande. ProAgri het by boere in Natal, die Oos-Vrystaat en Noord-Vrystaat gaan hoor hoe die werktuig berge op hulle plase versit.

Die AST/Matic 450 is ’n knap stukkie ingenieurshulp vir die minimumbewerkingboer wat ’n goed deurlugte, vogabsorberende, ongekompakteerde saadbed vir sy gewasse wil skep. Hierdie diepwerkende beitelwerktuig skep die gewenste saadbed met sy stel groot skyfkouters wat netjies deur plantreste sny, opgevolg deur ’n stel beitels wat die grond tot op 450 mm losbreek en afrond met rollers wat die grond tot ’n snoesige saadbed omskep.

Die geheim van die werktuig lê in die ontwerp van die tand met sy unieke uitskopaksie. Die hoek waarteen die tand in die grond insteek verseker dat die grond losgemaak word sonder om kluite te breek. Die uitskopaksie is nie veerbelaai nie, wat beteken dat hierdie kritieke hoek konstant bly, tot in die hardste grond.

Waar die AST/Matic 450 gewerk het, bly daar geen kors of ploegsool oor nie en die grond is regdeur netjies losgemaak vir beter benutting van bemesting, beter waterbenutting en -bewaring, en ’n ferm, maar deurdringbare tekstuur waarin plante nie kan wag om hulle wortels behaaglik uit te skop nie.

AST/Matic 450 kan met ’n sleepstang getrek word of aan die trekker se driepunt haak vir beter kragtoediening en beheer. Die beiteltande se skagte is ontwerp om onder die grond in te haak en deurgaans op die gewenste diepte te bly.

Weidingsbelugter en grondvoorbereider
Gideon Human is bestuurder op Wessel Campher se plaas, Highlands Farm, aan die onderpunt van die Van Reenenspas, aan Natal se kant. “Ons het die werktuig om twee redes gekoop. Op ons gevestigde weiding is dit nodig om so nou en dan die grond wat die diere vasgetrap het net so bietjie los te maak en te belug sonder om dit te veel te versteur. Daar is niks wat gras weer so lekker laat groei soos wortels wat weer ruimte vir vog en suurstof het nie,” sê Gideon.

MinimumbewerkingGideon Human, plaasbestuurder van Wessel Campher, is baie trots op Valtrac se AST/Matic 450 wat hulle minimumbewerkingproses baie ligter en doeltreffender maak.

“Die groot taak van die AST/Matic is egter om die gestroopte mielielande, wat ook deur die diere vasgetrap is, in een bewerking gereed te kry vir planttyd. Die kouter slaag daarin om die boonste kompaksielaag en plantmateriaal netjies deur te sny sodat daar niks aan die tande kan vassit en saamsleep nie.

“Ons doen al vir baie jare minimumbewerking en het saam met ’n klomp ander plaaslike boere in die gebied gevind dat die grond wel oor ’n tydperk effens vasgetrap word deur die diere, stroper en trekkers. Die AST/Matic help net om die grondtoestand weer vinnig en goedkoop op te knap.”

Wessel het ’n wye spektrum van sand, Hutton en Avalon tot turfgrond, maar die AST/Matic se tande werk perfek in elke tipe. Vir gekompakteerde weiding het die werktuig 20 kW per tand nodig, maar vir algemene werk bereken Gideon 15 kW trekkerkrag per tand. Met ligter grondtipes kan hy met 10 kW wegkom. Hulle gebruik net Valtra-trekkers op die plaas en ’n Valtra 171 wat 136 kW lewer, het net daardie ekstra bietjie krag om die sewetand AST/Matic in enige omstandighede te trek.

 “Valtrac se blitsige diens verseker dat ons staantyd nie eers aangeteken hoef te word nie. Wynn Dedwith, die eienaar van Valtrac, het al so vêr gegaan om self in sy vliegtuig te klim om ’n onderdeel van Parys af vir ons plaas toe te bring,” sê Gideon. 10 mm reën is genoeg vir plant Kobus en Danie van Niekerk is twee broers wat soos een man tussen Reitz en Kestell saamboer.

“Ons wou in 2004 ’n wisselboustelsel tussen mielies en soja begin het, maar het besef dat die werktuig wat die verskil tussen sukses en mislukking sou beteken, eers gevind moes word,” sê Kobus.

Na deeglike navorsing het die Van Niekerks op die AST/Matic besluit, wat sou beteken dat hulle kon ophou ploeg en dis, maar steeds ’n netjiese saadbed voorberei en baie gouer in die lande kan kom om die volgende gewas te begin plant. “Dit is nou net nodig om die grond ook met ’n Vibroflex te skud en met ’n rolmoer die mieliereste stukkend te slaan. Omdat ons die AST/Matic kan sleep, kan die trekkerbestuurders jou ook nie kul met dieptes nie,” sê Kobus.

“Dit is werklik ’n riem onder die hart om te sien hoe die grondgehalte oor die jare verbeter het. Die lande verspoel nie meer nie en die bogrond waai nie weg nie, terwyl die brandstofkoste ook nou lekker laag is,” sê Danie.

“Hierdie werktuig stel ons in staat om ons grond na die winter baie gouer reg te kry vir plant. Sodra ons die soja-oes gestroop het, die vee op die reste laat wei het en ons grondontledings teruggekry het, kan ons dadelik die grond met die AST/Matic voorberei vir die mielieplantseisoen. Terwyl die ander boere vir minstens 30 mm reën moet wag, kan ons al begin werk as daar 10 mm geval het omdat die AST/Matic seker gemaak het dat daar genoeg vog in die grond vasgehou is.”

Die Van Niekerks is ook vas oortuig dat die AST/Matic met elke plantseisoen ligter trek soos die grondtekstuur verbeter en die harde ploegblaaie gebreek word.

’n Monstermasjien
Hennie en Jacob van der Westhuizen wissel tussen sorghum, mielies en soja buite Parys. Hulle gebruik die AST/Matic nou vir die derde seisoen. “Ons het die werktuig vir ’n lang ruk dopgehou tydens Valtrac se demonstrasies en toe, drie jaar gelede, die kans gewaag. Ons het dadelik drie AST/Matics met sewe tande elk gekoop wat ons langs mekaar aan ’n raam vasgesit het sodat ons 21 tande gelyk in die grond kan druk,” sê Hennie. “Vroeër moes ek eers wag vir die reën voor ons met die disse die oesreste kon platsny en as dit baie gereën het, moes ek die beitelploeë in die grond slaan. Nou kan ek al vroeg in die winter in die land kom voordat dit te hard word. Indien die grond ons voorgespring het, is die AST/Matic ook die enigste werktuig wat dit regkry om onder die grond in te kom sonder om groot kluite te vorm. Die kouters sny so 4 tot 10 cm diep en breek daardie kritieke kors wat geneig is om sooie en groot klonte te maak. Die deurvloei is ook baie goed en niks pak en bondel om die tande nie en dit wat tussen die tande deurvloei druk die roller mooi vas.

minimumbewerkingJacob en Hennie van der Westhuizen buite Parys plant konvensioneel sorghum en het drie AST/Matic 450’s langs mekaar ingespan om 21 tande tegelyk in die grond te sit.

“Ek hou baie daarvan dat die tande nie veerbelaai is nie, wat beteken dat dit deurgaans op een plek bly sodat die diepte konstant is. Die grond word ook nie gerol nie en slegs opgelig om deurlug te word. Daarna druk die roller dit netjies plat om die kosbare vog te bewaar,” sê Jacob.

Jakob moes elke jaar met 2 800 ha turfgrond op sy plaas spartel waar hy sorghum, mielies, soja en sonneblom wisselbou. Sy probleem het eensklaps verdwyn toe die AST/Matic op die toneel verskyn. “Die AST/Matic is die enigste werktuig wat werklik onder die turf kan insteek nadat die kouters die boonste laag soos botter deurgesny het. Die vog in my grond is deesdae ook baie hoër en dit kan net die roller wees wat agterna kom om enige walletjie of stoppel wat uitsteek mooi vas te druk,” sê hy. Sy 400 kW trekker trek met gemak die 21 tande en daarbenewens is sy brandstofverbruik ook minder as vroeër.

As jy ook wil deel in hierdie voortreflike eienskappe van die AST/Matic 450, kontak gerus vir Attie de Villiers by 083-261-9863 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Besoek ook www.valtrac.co.za vir meer inligting oor Valtrac se volledige reeks wenwerktuie en trekkers.

Deur Du Preez De Villiers | Datum: 2014-06-17