Articles

Boere bekyk skittertegnologie by Nampo

‘n Allemintige skare van 72 376 besoekers het vanjaar GraanSA se NAMPO-Oesdag bygewoon om die produkte van meer as 600 uitstallers te bekyk. Daar het in die vier dae 340 vliegtuie en 59 helikopters langs die skouterrein geland.

Onder die Oesdag-hoogtepunte was die eerste amptelike ploegwedstryd wat groot belangstelling uitgelok het. Willie Ludik, 'n veeboer van Rouxville, is as die eerste Suid-Afrikaanse ploegkampioen aangewys en hy sal Suid-Afrika by die Wêreldploegkampioenskap in Frankryk in 2014 verteenwoordig.

Die eerste fase van die 8 000 m²-uitbreiding aan uitstalruimte by die suidelike parkeerarea is ook vanjaar in gebruik geneem.

ProAgri het op heelwat nuwe en interessante aanbiedings in die meganisasie-afdeling afgekom en ons nooi graag maatskappye om ons voor die volgende skou in kennis te stel van nuwighede en ontwikkelings sodat ons seker kan maak dat ons wel by dié uitstallings besoek kan aflê.

Valtrac
Valtrac_Nampo_nuusValtrac het sy nuwe Pöttinger-toerusting vertoon. Die Terradisc 6001 kompakte skotteleg werk met gemak tot 6 meter wyd. Die veelsydige eg is uitstekend met vlak grondvoorbereiding en boere kan kies of hulle ‘n driepunt- of sleepmodel wil hê. Die eg het nou ‘n nuwe dubbelarmstelsel, wat beteken dat daar twee gehapte skottels aan elke arm gemonteer is. Wanneer die eg werk, is die onderstel vorentoe en boontoe gevou sodat dit bo-oor die agterste roller lê en ekstra gewig op die skottels plaas vir beter bewerking van enige tipe grond.

Valtrac_nampo_nuus
Vir boere wat ernstig is oor voermaak, het Valtrac goeie nuus. Die Pöttinger-kraghark spog nou met ‘n drywende montering en verstelbareswaaiwieltegnologie wat sorg dat die hark teen enige hoek op ongelyke lande op die regte hoogte bly beweeg en alle materiaal optel sonder dat die tande teen die grond vasslaan.

Mei 2013