Articles

Spuit sonder sukkel onkruid dood

“Die onkruid is dood en dit is tog wat ek wil hê,” sê Roelf du Plessis van Witwalboerdery naby Vredefort. “Daarby het my Ranger die afgelope seisoen so 3 000 hektaar gespuit en ek het nie ’n dooie sent aan onderhoud spandeer nie.”

montana spuit, image, valtrac, montana ranger

Roelf het die Montana Ranger 3000 met sy spuitbalk van 25 meter by Valtrac gekoop omdat hy graag ter wille van arbeidsbesparing ’n groot spuit wou hê wat maklik hanteer en min onderhoud nodig het. Hy sê hy weet uit ondervinding dat Valtrac se produkte stewig is, goed werk en deur buitengewoon goeie diens ondersteun word.
Die Ranger pas nie net netjies in sy minimumbewerkingstelsel in nie; die prys het ook in sy begroting ingepas. Hy sê mense dink as jy ’n groter spuit wil hê moet jy na ’n selfloper begin kyk, maar daar is ’n paar redes waarom ’n sleepspuit vir hom beter werk, waarvan die belangrikste is dat die prys beter is en dat die somme net beter klop.

“Ek het ’n trekker wat ek ook vir ander take kan gebruik. Waarom sal ek iets ten duurste aankoop wat homself aandryf maar die grootste deel van die jaar ledig in die skuur staan?” vra hy. Jan Bothma van die plaas Rorich naby Bothaville stem saam dat ’n sleepspuit ’n noodsaaklike rol vervul. Hy het onlangs die Montana Ranger 3000 aangekoop, maar gebruik ook nog sy Montana Parruda-selfloperspuit. Jan sê vir hom is een van die groot voordele van die sleepspuit dat jy makliker in nat lande kan ingaan. “Jy het net minder probleme met vassit as met die selfloper,” sê hy.

Valtrac montana ranger, image, picture

Drieduisend liter spuitstof is swaar, maar Jan sê die verplasing van die tenk se gewig na die trekker sorg vir beter beweeglikheid in moeilike omstandighede. Hy wil ook die Ranger gebruik om in kleiner plekke en hoeke doeltreffende bespuiting te doen.

Hy hou van die outomatiese spuitbeheer wat sorg dat daar vinniger gespuit word as daar vinniger gery word en anders-om.

Roelf is ook baie tevrede met die verhouding tussen spoed en spuit. Hy sê daar word orals dieselfde volume gifstof geplaas, selfs al ry jy baie stadig. Die vloeimeters sorg vir volgehoue drukking deur die spuit se eie hidrouliese stelsel. Die spuit se hidrouliese beheerstelsel en GPS-monitor in die trekker se kajuit is gebruikersvriendelik. Met behulp van die satellietstelsel kan daar presiese seksie-spuitwerk gedoen word na gelang van behoefte. Die monitor sal ook seker maak dat daar nie stroke in die land is wat dubbel bespuit word en ander wat oorgeslaan word nie.

Dit is ten volle versoenbaar met ’’n presisieboerderystelsel wat op terreinontledings en stroperkaarte steun. Die uitspoeltenk van 110 liter is netjies in die spuittenk ingebou en deur net die pompie te aktiveer en die kraan oop te draai, word die tenk, wat van glasvesel gemaak is, goed skoongespoel om te keer dat enige gifstof agterbly.

Daar is ook ’n gerieflike 11 liter handewastenk. Roelf en Jan praat met groot lof van Valtrac se diens. Jan sê daar was ’n paar veranderings wat aan die spuit aangebring moes word, soos die feit dat sy rekenaar Portugees met hom wou probeer praat, maar die kundiges was vinnig daar om dit te verander.

Jan sê: “Valtrac se werktuigkundiges is werklik kundig en hulle loop ’n pad saam met jou. Hulle word vriende.” Die Montana Ranger is beskikbaar met tenks van 2 000 en 3 000 liter en balklengtes van 18, 21 en 25 meter. Sy wielsporing kan gestel word om by rywydtes aan te pas of in die trekker se spoor te loop en sy grondvryhoogte is 600 mm.

Julie 2013