Articles

Só moet ’n mens mos sny!

“I think I can safely say there is not a better mower.” Hamish Muir behoort te weet waarvan hy praat, want hy doen al vier jaar lank kontraksnywerk met Pöttinger se Novadisc-snyers in die Estcourt/Winterton-omgewing. Die toerusting word deur Valtrac in Suid-Afrika versprei. Hamish beskryf die Novadisc 265 waarmee hy nou sny as briljant. “Dit is goeie tegnologie wat goed werk.”

Robert Fick, wat ook in die sentrale dele van KwaZulu-Natal, onder meer met ’n Novocat 3507 TED, snywerk doen, sê hulle gebruik die Pöttinger-snyers elke dag in die hooimaakseisoen en hulle is baie betroubaar. Hy sê daar is baie snyers in die mark en van hulle is regtig duur. “Die Pöttingers is mededingend wat prys betref en jy kan nie sy snywerk klop nie.”

Nog ’n voermaakkontrakteur wat met groot lof van sy Novadisc-snyers praat, is Clive Mingay wat veral in die dele suid van Pietermaritzburg werk. Hy sê die snyers sny skoon en glad en het nie ’’n probleem om kontoere te hanteer nie.
Valtrac_pottinger_snyers

Pöttinger ontwerp vir boere
As familiemaatskappy is Pöttinger in voeling met sy boere se behoeftes. Die maatskappy sê die produksie van voer is en was nog altyd die grondslag vir die oorlewing van mens en dier en daarom sorg die maatskappy vir hoë gehalte voer deur die ontwikkeling van gevorderde tegnologie.

Elke Novacat- en Novadisc-skyfsnyer het ’n gladde pens met geboë sleë sodat dit so laag as wat jy wil kan sny sonder dat die veld beskadig word en sodat die snyer met die minste moontlike weerstand gesleep (of gestoot) kan word. Dit beteken ook minder trekkerkrag. Vir strawwe Suid-Afrikaanse toestande en kliplande kan boere hulle Pöttinger-snyers 50 mm hoër lig met hoogloopsleë. Die hoër snit bevorder ook vinniger hergroei. Die dae van snyers wat moet sukkel om agter die trekker die vasgetrapte gras op te tel, is verby. Die Novacat en Novadisc-snyers loop skuins agter of voor die trekker en as jy regtig vinnig wil werk en breë bane wil sny, skuins agter EN voor die trekker.

Die snyskywe is so gevorm dat die gesnyde gras maklik en eenvormig deur die snyer gly en die geboë voorkant van die snystaaf sorg dat die grond onderdeur gly en die gras bo-oor. Die snyers is ontwerp om ook swaar, lang gras wat al gaan lê het op te tel en om harde, droë gras netjies af te sny. Dit is moontlik as gevolg van die klein gaping tussen die bokant van die snystaaf en die teendraai-lemme.

Die snit is netjies, skoon en eenvormig danksy die optimale oorvleueling van die lemme se snypad. Die lemme self word van die hoogste gehalte staal gemaak en dit is baie maklik om ’n lem te vervang. ’n Lemsleutel word gebruik om die veerknippie af te druk en woerts-warts die lemme te ruil. Aan sommige skyfsnyers is dit ’n nagmerrie as ’n skyf of ratte gebreek het, want die hele staaf moet uitmekaar geryg word om een onderdeel te vervang. Danksy die Pöttinger se modulêre ontwerp kan elke skyf en rat met sy laers as ’n eenheid uitgehaal word. Daar is ook ’n ingeboude meganiese wegbreekaksie wat verhoed dat die snystaaf beskadig word wanneer daar ’n klip of hoekpaal in die pad beland.

Nog goeie nuus is dat ’n boer nie sy trekker by die snyer hoef aan te pas nie; die snyers is almal so ontwerp dat hulle aan enige trekker kan pas met die verstelling van ’n paar boute.