Articles

Pasgemaakte trekkers ideaal vir boere.

Valtra se reeks trekkers is ideaal vir Suid- Afrikaanse toestande. Omdat geen twee plase dieselfde is nie, bied die maatskappy pasgemaakte opsies aan boere. Valtra-enjins is bekend vir hul hoë kraglewering, betroubaarheid en verminderde brandstofverbruik.

Met meer as 500 000 moontlike verskillende kombinasies kan die boer ’n trekker bestel wat gespesifiseer word volgens sy unieke behoeftes.’

Uitmuntende diens en trekkers en werktuie maak van Valtrac ’n gesogte handelsnaam in die landboubedryf.

Toe die wêreld se twee grootste Skandinawiese trekker-vervaardigers, Valmet en Volvo BM, in 1979 saamgesmelt het, kon min mense voorsien watter impak die nuwe maatskappy se reeks trekkers sal hê. Die reeks Volvo BM Valmet-trekkers het vinnig hulself gevestig as die markleier in Skandinawië en in 2001 het
die trekkermaatskappy en handelsnaam ’n splinternuwe naam gekry: Valtra.

Vandag word Valtra-trekkers in Finland en Brasilië vervaardig en na meer as 75 lande wêreldwyd uitgevoer. Valtra is sedert 2004 deel van die internasionale Agco-groep, wat handelsname soos Fandt, Challenger en Massey Ferguson vervaardig. Valtra se betroubare AGCO Power-enjins word ook in daardie trekkers gebruik. Slegs die beste materiaal word gebruik en die meeste Valtra-onderdele word in die maatskappy se eie aanlegte vervaardig.

Elke produk word aan streng toetse onderwerp. In Suid-Afrika word Valtra-trekkers deur die bekende landboutoerustingmaatskappy Valtrac versprei. Valtrac (Edms.) Bpk. is in Parys in die Noord-Vrystaat
deur mnr Wynn Dedwith, ’n bekende in landboukringe, gestig nadat hy begin soek het na trekkers van ’n hoë gehalte wat in die veeleisende Suid-Afrikaanse toestande kan werk.

Wat as ’n verkope-en-dienste-afdeling van die reeks Valtra-trekkers begin het, het gou gegroei tot ’n volwaardige verspreider van ander werktuie van topgehalte ook. Valtrac strewe daarna om kundige raad
aan sy kliënte te verskaf wanneer hulle landboutoerusting en werktuie aankoop, asook ’n volledige reeks onderdele en ondersteuningsdienste.

Valtrac het ook takke in Pietermaritzburg, Lichtenburg en Reitz. Hy het ook onlangs Zada Agri aangewys
as die Valtra-handelaar vir die Hoopstad-area Nuwe takke word ook vanjaar geopen op Bela-Bela en Polokwane.

PASGEMAAK

Valtrac weet dat geen twee Suid-Afrikaanse plase se omstandighede en behoeftes presies dieselfde is nie, en daarom bied die maatskappy ’n unieke diens aan Suid-Afrikaanse boere. Met Valtra se eiekeuse-stelsel bied die
maatskappy ’n veelsydige, pasgemaakte trekker aan boere.

Met meer as 500 000 moontlike verskillende kombinasies kan die boer ’n trekker bestel wat gespesifiseer word volgens sy unieke behoeftes. Die opsies wissel van eenvoudige elemente, soos waarskuwingsligte en ekstra ligte vir laaigraafwerk, tot gevorderde opsies, soos voorassuspensies, lugdruk- of hidrouliese remme, hidrouliese vloeie, ECO-kragaftakkers en -ratkaste.

Valtra se kliënt-gerigte benadering is uniek onder trekkervervaardigers. Met die gevorderde kliëntebesprekingsdiens kan boere trekkers bestel wat presies gebou word soos wat hulle dit wil hê.
Dit voorkom die koste van onnodige toerusting op die trekker. Dit is die doeltreffendste en produktiefste
manier vir die boer en die vervaardiger om trekkers te bou.

By Valtrac beteken pasgemaakte trekkers dat die boer die ratkas, enjin, hidrouliese stelsel, kajuit en kleur kan kies wat hy wil hê. Die aankoopprys van die pasgemaakte trekker word bepaal deur die eienskappe waaroor
die trekker moet beskik, sodat die boer slegs betaal vir die toerusting wat ’n wesenlike voordeel vir sy boerdery bied. Met die vryheid om die jongste vernuwings en funksies te kies, sal die Valtra op lang termyn bewys dat dit die produktiefste en ekonomiesste keuse is.

VERSKEIE UNIEKE OPSIES

Valtra-trekkers is die aanpasbaarste en betroubaarste vennote vir alle plaaswerk – van die basiese konstruksie van die trekker tot die unieke funksies wat vir spesifieke toepassings ontwerp is. Te danke aan die  gewigsverdelingseienskap bied die reeks Valtra N-trekkers van die beste werkverrigting vir sy gewigsklas
in die mark. Dit beteken die doeltreffende gebruik van enjinkrag en verskillende werktuie.

Valtra is ook ’n voortreflike laaigraaf-trekkervervaardiger en danksy die veelsydige LHLINK, is dit ’n ideale trekker vir enige laaiwerk op die plaas. Die laaigraaf is perfek vir melkerye en tuinbou-bedrywe, vanaf grassny
tot vervoer, silowerk en algemene werk in die veld.

Kragtige hidrouliese stelsels met afsonderlike hidrouliese olie-opgaartenks in die Versu- en Direct- modelle, asook in sommige reeks T-modelle, gekombineer met Valtra se eie SigmaPower-funksie vir kragaftakkingswerk, verseker dat werktuie doeltreffend benut kan word. Direkte modelle spog met ’n hidrouliese assistent en ’n turbine-koppelaarfunksie.

Die trustuurfunksie van die Valtra TwinTrac maak dit nou maklik om in trurat hooi te sny. Die drywer kan deur 180 grade in sy gemaklike kajuit draai sonder om die trekker tot stilstand te bring of om op te staan. Die stuurstelselinstrumente is ook ergonomies geplaas langs Valtra se gepatenteerde armrus. Dié stelsel gebruik ’n tweede stuurwiel met ’n elektriese vorentoe -truratverstelling, en ’n bykomende koppelaar, rem- en brandstofpedaal. Die draaistoel maak dit makliker om na die werktuig en werkgebied agter die trekker te kyk. ’n Hele aantal kombinasies van trekker-werktuie werk ten beste in trurat. Die TwinTrac-trustuurfunksie bied ’n groot voordeel aangesien swaardiens-werktuie altyd agteraan die trekker gehaak word.

Die opsionele satellietnavigasiestelsel, System 150 Auto-Steering, gebruik die jongste GPS-tegnologie
om die Valtra-trekker en werktuie vinniger en akkurater te stuur. Dit is veral van belang vir diegene wat akkurater in die nag en in donker toestande wil werk. Die stelsel stuur die trekker outomaties en vermy oorvleueling of
gedeeltes van onbewerkte grond. Dit verlaag brandstofkoste en verbeter produktiwiteit beduidend.

AutoTraction is ’n outomatiese funksie van die koppelaar wat uiters nuttig is wanneer gebaal word, vir laaiwerk, aan die kopkante van die land, waar produkte vervoer word, en in stop-en-rytoepassings. Wanneer AutoTraction in werking gestel word, sal die koppelaar ontkoppel wanneer die enjinspoed minder as 1 100 r/min. is, of wanneer die remme getrap word terwyl die ryspoed minder as 10 km/h is. Die koppelaar koppel
weer sodra die enjinspoed hoër as 1 100 r/min. word. Die trekker kan dus bestuur word deur slegs die  brandstofpedaal en remme te gebruik. Dit is ’n unieke Valtra-funksie om werk makliker en veiliger te maak.

Aan die kopkant van ’n land, waar die trekker en werktuig omdraai, gaan tyd verlore terwyl die bestuurder die trekker en werktuig beheer. Valtra se U-Pilot verminder die tyd wat op die kopkant van die land verloor word, verbeter produktiwiteit en verminder die bestuurder se vlak van uitputting. Dit verminder ook die risiko van menslike foute.

Die ISOBUS-kommunikasiestelsel (ISO 11783) ruil data tussen die trekker en die werktuig uit. ISOBUS maak dit maklik om moderne werktuie te beheer, veral werktuie met verskeie funksies en ’n hoë vlak van outomatisasie. Deur gebruik te maak van telemetrie kan die ligging en werksfunksies van die trekker op die
internet gevolg word. Valtra se Agcommand-stelsel stuur inligting aangaande die trekker na ’n diensverskaffer, vanwaar dit nagegaan kan word in die vorm van individuele verslae. Autosteer, telemetrie en ISOBUS-gereedheid is alles beskikbaar op Valtra se N-reeks- en T-reeks-trekkers, en is standaard op sy S-reeks-trekkers.

ENJINS SOOS MIN

Valtra-enjins is bekend vir hul hoë kraglewering, betroubaarheid en verminderde brandstofkoste. Dit kan brandstofverbruik met tot 20% laat krimp, enjingeraas verminder, rygemak verbeter, vibrasie verminder en ’n langer gebruiksduur vir die trekker verseker.

Valtra se kliënt-gefokuste benadering is uniek onder trekkervervaardigers. Met meer as 500 000 verskillende
kombinasies kan die boer ’n trekker bestel wat gespesifiseer word volgens sy behoeftes.

  Landbouweekblad | 17 Mei 2013